Wat is dan nou lekkerder as om in jou eie taal te praat en, selfs in die Engelse koerant, ’n artikel in jou eie taal te lees?
Vandag maak The Herald ’n uitsondering en publiseer ons hierdie artikel spesiaal vir ons Afrikaanse lesers in hul moedertaal, om saam met hulle 100 jaar van Afrikaans as ’n amptelike Suid-Afrikaanse taal te vier.
In werklikheid is Afrikaans veel ouer — die oorsprong daarvan is meer as 400 jaar gelede reeds opgeteken, toe matrose vanuit Europa en Asië gereelde besoekers aan die Kaap geword het.
Maar die Afrikaans van toeka het oor die eeue heen baie ontwikkel om die moderne, multi-kulturele identiteit aan te neem waarmee dit vandag spog.
Medeprofessor aan die Nelson Mandela Universiteit (NMU) se Afrikaanse Taalkunde afdeling, Prof Anna Otto, is van mening dat die oudmodiese opinie dat Afrikaans besig is om uit te sterf skone snert is.
“Afrikaans kan beslis nie net verdwyn nie. Dit is lankal nie meer net ’n Suid-Afrikaanse taal nie, maar het oor die afgelope dekades ’n wêreldtaal geword.
“Afrikaanse immigrante in lande soos Nieu-Seeland, Australië, Kanada en regoor Europa het gemeenskappe gevorm waar die taal floreer.
“Terselfdertyd het die taal in ons land van krag tot krag gegaan, en het onlangs ’n sterk kultuur en identiteit onder jonger sprekers geword wat deurlopend ontwikkel en groei.”
Volgens geskiedkundiges dateer die oudste vorme van Afrikaans uit die 1590s.
Europese matrose wat aan die Kaap gestop het tydens hulle reise na Asië het gereelde kontak met die Khoi gehad, en Khoi-Afrikaans het ontstaan om handel tussen die vreemdelinge te vergemaklik.
Byna 60 jaar later, met Jan van Riebeeck se koms, was daar reeds tolke wat die “taal van Afrika”, oftewel Afrikaans, baasgeraak het.
Vandaar het besoekers uit Frankryk, Duitsland, Portugal, Maleisië, Arabië en talle ander uithoeke van die wêreld ’n invloed op die taal gehad soos dit oor die jare ontwikkel het.
Terselfdertyd was daar ’n wedersydse invloed van Afrikaans op ander Afrika-tale.
In Augustus 1875 is die Genootskap vir Regte Afrikaners gestig, ’n organisasie wat ’n belangrike rol in die ontwikkeling en samestelling van die eerste Afrikaanse woordeboek en spelreëls gespeel het.
Vandag is sowat 85% van Afrikaans steeds afkomstig van Nederlands wat as die basistaal geag word.
Op 8 Mei 1925 is Afrikaans as Suid-Afrika se tweede amptelik taal, naas Engels, aanvaar.
Volgens statistieke van die 2022-sensus, het Afrikaans die derde meeste huistaalsprekers in Suid-Afrika (10.6%).
Zoeloe (24.4%) en isiXhosa (16.3%) staan eerste en tweede, terwyl Sepedi (10%) en Engels (8.7%) die vierde en vyfde plekke beklee.
“En Afrikaans is steeds besig om te ontwikkel. Ons beleef ’n groot oplewing onder jong, bruin Afrikaans spekers wat deurlopend nuutskeppings en variëteite van Afrikaans te weë bring.
“Dit is die perfekte voorbeeld van hoe taal en identiteit hand-aan-hand stap,” het Otto gesê.
Sy glo ook die gewildheid van Afrikaanse musiekfeeste, soos die Klein Karoo Nasional Kunstefees (KKNK) en die Kirkwood Wildsfees, is goeie voorbeelde van die taal se groeiende identiteit.
Vanuit ’n akademiese oogpunt word taalhulpbronne ook meer gereeld hersien, en Otto sê handleidings soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word op ’n meer gereelde basis hersien en uitgegee.
“Afrikaans is net só spesiaal. Is daar ’n taal wat meer beskrywend is? Wanneer jy praat van ’n branderplankryer, dan wonder niemand waarvan jy praat nie, hulle weet presies.
“Hierdie taal is nog ver van uitsterf af. Inteendeel, hierdie taal is nou maar eers amptelik 100 jaar oud en gaan nog baie lank in die omtrek wees,” het Otto gesê.
The Herald